Die nasionale minimum loon tree op 1 Januarie 2019 in werking nadat pres. Cyril Ramaphosa op Vrydag 23 November die wetsontwerp op die nasionale minimum loon onderteken het.

Dié stap volg nadat die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp in Augustus goedgekeur het. Luidens ’n berig op Times Live het Ramaphosa vier arbeidswetsontwerpe onderteken, glo weens druk van die vakverbond Cosatu om die wetgewing te finaliseer. Kritici waarsku al geruime tyd dat die wetgewing kan lei tot werksverliese in ’n ekonomie wat reeds onder die druk van ’n werkloosheidskoers van 27% is.

Landbouweekblad het vroeër berig dié wetsontwerp bepaal dat niemand in Suid-Afrika minder as ’n basiese loon van R20 per uur mag verdien nie.

Mnr. Jackson Mthembu, parlementêre hoofsweep van die ANC, het in Augustus gesê die minimum loon sal tot voordeel wees van die sowat 75% van landbouwerkers wat minder as R2 000 per maand verdien, en 90% van huiswerkers wat minder as R3 120 per maand verdien.

Die Regering het beoog dat die loon op 1 Mei vanjaar in werking sou tree. Parlementêre prosesse moes egter eers voltooi word en die proses kon nie kunsmatig versnel word nie.

Ramaphosa het as adjunkpresident die ondersoekproses na ’n minimum loon gelei.

Artikel deur Alani Janeke • Netwerk24